Padlangs Namibia

Harde, pagtige Namibia

Written by Gert Jacobie | Nov 6, 2024 12:38:26 PM

Die ratel draf windgat voor my verby met iets in sy bek wat ek nie mooi kan sien nie. Dis seker 'n uilskuiken of 'n ding wat hy iewers uit 'n nes gesteel het.

'n Entjie verder stop ek die Namibia2Go Isuzu weer. Dié keer is dit 'n koedoe verskalf wat vir my deur die bosse en droë boomtakke kyk. Vir 'n oomblik wil ek na die selfoon se kamera gryp, maar besluit om my in te hou en die oomblik in my gedagtes vas te lê. Dis meer werd as 'n geskarrel en dan is die koedoekalf dalk vir ewig weg.

Vroeër was daar 'n shongalolo in my woonstel. Die baie poterige ding sou volgens oorlewering 'n mens laat lag as hy jou byt en ek het hom moedswillig gekoggel en hom aangepor om my te byt, want ek soek juis iets om oor te lag. Die einde van die droeë seisoen in Namibia het aangebreek en as mens nou na die veld kyk en na boere se sorge luister, is daar wragrig min om oor te lag.

Suidoos van Windhoek lê die Kalahariduine rooi sover as wat die oog kan sien. In die suide stoot die laaste kouefronte van die suidpunt van Afrika af oor die dorre Karas.

Noordwes gaan dit beroerd en die laaste wild uit die Ugab en ander afloopriviere verder noord trek agter grassies en water aan in die rigting waar die son moet opkom en waar blitse en donderweer by Etosha en oos daarvandaan vir beter tye roep.

Hierdie tye is vir 'n Namibiër swaar tye, want dis hulle wat op die land en van die land af lewe. Tyd het egter geleer dat vee en plantboerdery in hierdie harde land nie altyd genoeg is om die senings en gebeendere van die hongerige menslike liggaam aan mekaar te hou nie. Toe wys die vingers van die gode vir die land se mense na die die natuur, wat selfs in die slegste tye dramaties mooi is - selfs al verstaan jy dit net gedeeltelik - en in die weswind verduidelik die gode: "Gebruik dit tot julle voordeel."

Dis toe wat Gondwana Collection verstaan en sy herberge in 'n kring deur die land bou en besoekers oor die wêreld heen nooi om te kom kuier, sodat hulle uit elke hoek en kant oor die aardbol heen kan verstaan... Namibia se droogtes en terugslae is eintlik 'n geleentheid as die perspektief daarvan in fokus gekry kan word.