Padlangs Namibia

Geskiedenis en vreemde belange

Written by Gert Jacobie | Oct 15, 2024 10:00:00 PM
Die Duitse koloniale owerhede moes het sedert die anneksasie van wat vandag Namibia is, strategies dink oor hoe om met die plaaslike bevolking om te gaan en dit het inderdaad vreemde bedmaats gemaak.
 Nodeloos om te sê, die opstande van 1904 wat gelei het tot die uitwissing van groot getallle Nama's en Herero's in die land, het groot dele onbevolk gelaat en die mense was min. Spasie was die goedkoopste kommoditeit beskikbaar in jare ná 1906.
Soos die storie vertel word in 'n werksdokument deur Georgio Meischer vir die Basler Afrika Bibliographien (Namibia Resource Centre - Southern Africa Library) het 'n groep Aawambo-mans wat waarskynlik gehelp het om spoorlyne die binneland in te bou in die 1880's en vroeë 1900's besluit hulle wil nie na Ondonga terugkeer nie en hulle is buitendien nou 'n integrale deel van die One Namibia - One Nation-beweging. Hulle het toe al vroue gevat uit die geledere van volke suid van die Owambo-gebied en hulle het beeste en skaap besit. Buitendien het die verhouding met die Ndonga-koning, Nehale, lankal suur geraak.
 
Só beland die spul in 'n tyd van oorlog toe op ontvolkte boerderygrond tussen Omaruru en Outjo en hou hulle uit die bakleiery uit, totdat hulle Outjo toe geskuif is met vroue, kinders en diensknegte, skape en bokke en jaghonde en al. Hulle het roers ook gehad. Die Duitsers het die bewoners van Otjeru en Okaura onder nie-amptelike leiding van Wilhelm Amporo as bruikbaar en nie bedreigend beskou en hulle laat begaan. Om die waarheid te sê, Bezirksamptmann Schultze, het waarde in die setlaars gesien as 'n model om op te bou vir die werwing van arbeid uit die Noorde. Die huur van die 10 000ha Otjeru en Okaura was 300 D-mark per jaar en die kontrak het nie 'n einde gehad nie, solank die bewoners hulleself inhou.
 
Rondom die opstande van 1904 tot byna 1909 is die "Wambo's" herwaarts en derwaarts gestuur. Eers na Outjo en Aimab, noord van die dorp en toe na Cauas, wes van die dorp, waar troepe saamgetrek was. Deurentyd het die goeie verhouding met die koloniale regering vir die ondernemende setlaars - of was hulle vrywillige bannelinge uit hul eie streek - waardevol gebly. Hulle het geld verdien en 'n interne ekonomie ontwikkel deur byvoorbeeld met hul eie waens transport te ry en stukwerk vir ander boere te doen.
In 1909/1910 het hulle terug op Otjeru bevind waar hulle weer langs 'n sytak van die Ugab-rivier onder die reusekameeldorings- en mopanies gewoon het, tuine gemaak en gekoop en verkoop het. Die geskiedenis vertel ons dat hulle daar 'n bestaan gemaak het tot 1939, toe hulle onder die Suid-Afrikaanse Mandaatregering verskuif is na Hereroland-Oos, Fransfontein en elders. Elders is immers deesdae waar baie Namibiërs opeindig.
 
Die oop vlaktes van noordwes Sentraal-Namibia is rondom daardie tyd finaal opgemeet en het braak gewag op boere en is selfs as graslisensieplase uitgegee. Die Dorslandtrekkers het toe pas in vandag se Namibia aangeland en die soldate van die Eerste Wêreldoorlog moes vergoed word vir hul aandeel in die bloedige stryd. Trouens, die volgende groot oorlog was in die lug, die depressie en droogte kon nog in die mond geproe word en ekonomies was die wêreld aan die draai. Maar dis weer ander Padlangse Stories draai en die Namibia2Go Ford sal weer noord moet gaan om daai halwe waarhede te gaan soek.
 
Mag al die feite oor alle Namibiese tye asseblief nie op een slag rigbaar word nie, want vir my en Gondwana Collection se span is die jagtog tog veel lekkerder as selfs 'n goed-gemikte doodskoot op 'n storie. Of, soos ou koerantmense sou sê; Moenie dat te veel feite 'n goeie storie laat sterf nie. Padlangs gaan ook oor die vertelkuns.