Padlangs Namibia

Estoire se plotte

Written by Gert Jacobie | Aug 22, 2024 9:17:24 AM
Enige reisiger, van Otavi af tot diep in Suid-Afrika, sal weet die dorpe en stede aan hierdie kant van die kontinent het plotte aan die buitewyke van die stadsgebiede. Op die plotte woon en werk mense, want 'n plotbewoner is ondernemend, hy is in stedeling of dorpenaar met 'n hunkering na blink liggies, maar ook na die buitelewe. So 'n soort soeker na die beste van wêrelde. As kinders van 'n padmaker was ons vaste adres maar altyd plotte aan die buitewyke van die dorpe naaste aan my pa se werkplekke. So het ons byvoorbeeld op Bloemfontein op die Estoire-plotte gewoon, by Witbank op Kromdraai toe my pa suurdamme vir die myne gebou het en op Grootfontein (as hoofbasis) op die Shamalindi-plotte.
 
In die Bloemfintein-dae het Griekwas en Piet Visagie die Curriebeker gewen en tannie Smith, twee plotte verder, het die beste vetkoeke op haar koolstoof gemaak. Daai soort wanneer sy die deeg so plat uitrek en dit in n swaar pan in baie warm olie bak. Dan los sy die een plaat van die koolstoof oop dat die vlamme uitlek, want die kookolie moet kokend warm wees.
 
Oom Smith het by die SAS&H (Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens) by die Goedere Loots (Loco) gewerk en 'n ligblou Studybaker Lark gery. Hy het "fortnight gepay" en dan 'n paar kappe by die oog gaan maak. Party Vrydae het hy ons almal in die Studybaker gelaai - die tannie met die bababoetie op die skoot - Wittes en die oom voor. As die Studybaker spoed vat, moet Wittes twee los drade "short dat die overdrive inskop" dan vlieg ons. Op die agtersitplek het ek, Chris, die mooie Mandjies (Amanda) en Boeta gesit. Ons het een aand amper die klassieke fliek "Too Late the Hero" gesien, maar aan die begin van die fliek hardloop Amerikaanse soldate oor 'n strook niemandsland terwyl Japanese hulle afmaai. In die Amerikaanse sone skreeu en moedig die Yanks hul kamerade aan en dit het oom Smith nie aangestaan nie. Hy trek toe daar weg huis toe dat die Studybaker oor die inry-hobbels vonke uit die teer uitskuur. Toe ons protesteer, antwoord hy dat hy nie atletiek kom kyk het nie.
 
Op 'n ander Vrydagaand bederf tannie Smith ons toe weer met vetkoeke en goue stroop toe oom Smith met 'n wye draai op die werf aankom. Warm soos 'n alarm en met 'n .22 rewolwer wat hy met sy fortnight-pay in die kroeg gekoop het. Ons het ná die tyd geweet hy het net drie patrone op die koop toe gekry. Die eerste skoot met sy uitklimslag uit die Studybaker het hoog oor ons koppe geseil. Die tweede een toe hy by die agterdeur instap waar antie Smith vuurwarm vetkoeke bak. Toe staan ons ook al by die deur. Almal van ons en Mandjies het die baba op haar heup.
 
Oom Smith het nooit die derde skoot afgevuur nie. Tannie Smith het koel soos n komkommer die olie, met die twee vetkoeke daarin, in die lekkende vlamme by die oop plaat van die koolstoof ingegooi en toe daardie helse vlam daar uitskiet, swaai sy die ysterpan om en slaan vir oom Smith teen die kant van sy kop dat die bloed teen die kombuismure spat. Hy was flou en die Studybaker is buitepasiënte toe met die ou. Ons was weer almal in die kar en Wittes het die overdrive se drade met rus gelos.
Oom Smith het die volgende oggend met 'n taxi van die hospitaal af huis toe gekom en die tannie het die fooi by die hek betaal met die geld wat sy uit oom Smith se sak gehaal het by die hospitaal.
 
Ons het Sondag vir die oom gevra waar hy dan so seer gekry het. Hy vertel toe dis 'n werksbesering by die loco. Die pistool is daar in 'n ou boorgat tussen die bloekombome gegooi. Die laaste patroon het ons oopgebreek en die swael aan die brand gesteek. Boeta het later die doppie op die agterkant met n hammer geslaan om die slagdop veilig te maak en die .22 doppie omkeer in 'n groter brassdoppie ingekap wat hy by die Verweys geruil het vir alies. Met daai skietyster het hy potte en potte alies skoongeskiet.