Padlangs Namibia

Die Slag by Uitkomst

Written by Gert Jacobie | Aug 8, 2025 10:00:00 PM
As jy deur Grootfontein in die rigting van Rundu ry, nog voor jy by die laaste huise aan jou linkerkant verby gaan, is ‘n ou begraafplaas mooi met wit kalkklippe ombou en hy word deur die Duitse Oudsoldatevereniging netjies gehou. Ten minste die eerste twee rye – van maar net tien of twaalf rye grafte – is algar van Duitse soldate wat op 18 Januarie 1904 of kort daarna tydens die slag van Uitkomst gesterf het.
 

 
Enige leser van die geskiedenis van die Duits/Herero-oorlog van 1904 tot 1908 sal weet dit was ‘n bloedige slagting en ‘n groot deel van die Hererovolk is uitgewis. Na die uitbreek van die oorlog wat to 1908 geduur het, is grafte van Schutstruppe ‘n algemene gesig in Namibia en ek het onlangs Duitse besoekers raakgeloop wat die geskiedenis van vergange familie nagevors het en die laaste rusplek van ‘n verlangse familielid kom soek het. Vandag, amper 120 jaar later is die uitwissingsbevel van genl. Lothar von Trotha steeds ‘n onderwerp van bespreking sonder finaliteit.
 
Maar in 1904, die jaar waarin die oorlog in Januarie reeds begin het, was die gort behoorlik gaar in Duitswes-Afrika. In die noordelike distrik van die gebied, wat Grootfontein, Strydfontein, Namutoni, Uitkoms (35 km suidwes van Grootfontein) en in die rigting van die koperryke Otaviberge en die intydse Otjituue ingesluit het, was klein gemeenskappies setlaars gevestig. Omdat Grootfontein op die kulturele kruisweg van die beskawing was, is die gebied basies omring deur koninkryke van plaaslike volke. Ten noorde was die Ndonga koning, Nehale lyaMpingana (wie se soldate die fort by Namutoni met sy vier soldate en drie burgelikes aangeval het) en op Grootfontein was die ou fort deur sowat ‘n dosyn soldate onder bevel van luitenant Richard Volkman. Daar was vier gewapende soldate by Otjituue en nog ‘n manskap of twee elders. In die omgewing van Grootfontein, wat in Herero bekend was Otjivanda Tjongue of Luiperdheuwel, was die Hereroleier Mbatona die hoofman.
 
 
In 1903 het Uitkomst net 17 blanke bewoners gehad rondom die sterk fontein op die stuk grond. Die plaas het aan Joubert behoort toe die aanval deur Mbatona geloods is. Navorsers soek steeds na meer inligting oor die Slag van Uitkomst, maar wat beskikbaar is dui daarop dat Volkman se klein mag soldate en burgerlikes op 18 Januarie 1904 onderweg en naby Uitkomst in digte bos met die mag van Mbatona slaags geraak het en die geveg oortuigend gewen het. Mbatona en verskeie van sy luitenante is in die skermutseling gedood en die res het op die vlug geslaan en was nooit weer ‘n faktor in die oorlog nie. Militere ontleders meen Volkman en sy mag soldate en Boere-meelopers het Mbatona se sowat 250 krygers trompop bestorm en toe in die middel van die slagting na die kante van die mag geveg. Dit is egter nog die onderwerp van navorsing en daar bestaan nie uitsluitsel daaroor nie.
 
 
Die gewondes en gesneuweldes is egter na Grootfontein afgevoer en sommiges het later aan hul wonde beswyk. Volkman is hoog geprys vir sy rol in die geveg en hy het later in die koloniale oorlog teen die Herero’s by die Slag van Warerberg ‘n deurslaggewende rol gespeel toe hy en sy manskappe ‘n heliograaf op die bergplato opgestel het om die Duitse agtervolgingsmag met kommunikasiemiddele te voorsien.
 
Die museum op Grootfontein hou nie juis inligting oor die slag van Uitkomst nie, hoewel daar heelwat inligting oor die vroeë jare van Grootfontein en die omliggende vestigingsgrond gevind kan word. Vandag is die Grootfontein-distrik ‘n sterk boerdery-sentrum waarrondom akkerbou en veeteeld gedy, en as jy, soos ek, ‘n oud inwoner van Otjivanda Tjongue (Luiperdheuwel) is en jy ken mense, loop jy die kinders van die kinders van die ou Duitsers en Boere daar raak wat jou “nie” kan vertel wat hulle oupas daar gedoen het nie.