Padlangs Namibia

Die reën is hier.. ons ruik dit.

Written by Gert Jacobie | Dec 28, 2024 7:45:00 AM
Die reënseisoen het begin en hoe hy vanjaar sal eindig, dié weet ons nie. Dit lyk tog of die ergste droogte in 100 jaar minstens op plekke in die land gebreek is. Ons moet nou nie te vinnig oordeel nie, dis vroeg in die seisoen en baie waters sal die see nooit haal nie.
 
Nietemin, die vroeë berigte van goeie neerslae val goed op die oor. Spring gerus in 'n ryding en gaan kyk hoe dit lyk wanneer Namibia 'n verkleurmannetjie word. Ry met 'n Namibia2Go huurkar deur die land, slaap by 'n Gondwana Collection herberg en geniet die seisoensverandering in hierdie wonderlike land. Ervaar hoe die erge droogteveld oornag in 'n sprokieswêreld van jong agtdae-grassies vervorm en kyk hoe maer skaap en bees dit voor hulle voete weglek.
 
Gaan ruik die varsheid van die grond wanneer die eerste reën geval het. Dis die ware wonder van die Namibiese natuur.
 
Trouens die reuk van reën op droë veld word petrichor genoem. In die jare '50 van die 1900's het 'n navorser van Australië, Richard Grenfell Thomas, met dié naam vorendag gekom vir daardie wonderlike veskynsel waar spesifiek die menslike neus só sensitief is. Hy het die naam gehaal uit die Griekse woorde en mitologie... petra (rots) en chor (bloed van die gode).
 
Kortom, tydens droë tye versamel materiaal in klein stukkies plantreste in die grond en wanneer dit reën is daar 'n verbinding wat die reuk van essensiële olies vrystel. Dis maar 'n basiese verduideliking van petrichor.
 
Feite is eerder, wanneer die reuk van petrichor uit die velde opslaan, is dit die menslike reuk-sintuig wat besonder sensitief is daarvoor. Dit ontketen inderdaad 'n ervaring van genoegdoening, opwinding en tevredenheid in die mens.
 
Die menslike brein verbind die reuk noodwendig met beter tye en sosiale media se duisende foto's van donker, swanger reënwolke en panne water op plase waar dit in geen tyd gereën het nie, en die aanbreek van die Namibiese somerreënseisoen, voltooi die prentjie. Voeg daarby die terugblik oor baie maande se doodgaan- en bankrot droogte en nagte op biddende knieë en alles verander om 'n Namibiër. Of jy nou soos die Owambo's glo Kalunga is die god wat reën stuur, of in 'n Skepper van hemel en aarde se genade... goeie reën beteken oorvloed en oorvloed is genoegdoening en motivering.
 
En vir die wat nog wag vir die reuk van petrichor en die eerste reën - Oom Boet het altyd gesê: "Ja, die goeie mense kry dit laaste, maar dan kry hulle alles wat oor is!"