Padlangs Namibia

Breyten ook nou vergane

Written by Gert Jacobie | Nov 26, 2024 10:00:00 PM
Die foto wat ek sien by die aankondiging van Breyten Breytenbach se dood is so potloodskets van 'n regte foto af. So soort van 'n straatkunstenaarsweergawe in Parys se strate waar hy oor die naweek dood is. Noem hulle die kunsvorm nie sepia nie?
En dat hy nou in dieselfde jaar as sy ewe bekende broer, kol. Jan Breytenbach, moes sterf. Daar was nog 'n Breytenbach-broer wat ek ontmoet het. Ook al vergane. Hy was die uitstaande fotograaf en skrywer, Cloete Breytenbach. Ek het al drie broers by geleentheid met die hand gegroet.
 
Vir oom Jan het ek gewoonlik gesalueer in 'n militêre omgewing waar ons saamgewerk het en watter magtige gevegsmag was ons twee nie? Ek 'n blygemaakte sersant in 32 Bn en hy die stigter van spesiale magte wat die SAW met trots gedien het.
In die burgerlike (joernalistieke-omgewing) lewe het ek by geleentheid met Breyten kontak gehad. Hy was myns insiens 'n mens van uitstaande gehalte en 'n politieke pragmatiese denker wat met verandering, die goed en sleg daarvan, kon saamleef en dit veral aan die ontvanklile Afrikaner kon oordra in die ryk taal wat hy soos 'n goeie klavierspeler kon "pleeg" en as synde was Breyten in my oë 'n redder van die taal.
 
Onthou tog dat die Afrikaner hom in 'n ander tyd as 'n kommunis en verraaier uitgekryt het en later, toe hyself teleurgestel is deur die gevolge van verandering van die regime, 'n aktivis geword het teen die vergryp en korrupsie van die maghouers. Dalk was die versoening tussen Breyten en sy broer Jan, die keerpunt; wie sal weet wat gebeur as reuse stry en daarna vrede soek?
In enige terme was die drie Breytenbach-broers se dade elk 'n buitegewone bydrae aan ons siele hier in Suider-Afrika.
Ek is seker die skrywer en digter se woorde sal in die dae wat kom oor en oor oorweeg word en die literêre liggaam wat hy nalaat as stoflike oorskot, se bene sal deur politieke aasvoëls spierwit skoon gepik word voor dit ook gelos word om tot stof te vergaan.
Dan sal die boeke bly as sy spore op aarde - soos dié van sy skrywerbroers - om ons te herinner aan hulle teenwoordigheid in ons midde.
 
Lief hulle of haat hulle, die Breytenbach-broers was lewensgroot in Suider-Afrika, tussen Afrikaners en selfs vêr oor die vasteland se grense
 
Dit is billik genoeg om te vra... wie was die grootste van hulle?