Padlangs Namibia

As die jaar mooi loop

Written by Gert Jacobie | Jun 27, 2025 10:00:00 PM
 
Gesels gisteraand met n vriend op n plaas noordoos van Windhoek. Hy het die naweek jagters op sy plaas en die span het "geesvol" daar opgedaag.
 
Hyself is al die hele week op die plaas, want hy moet bees sorteer en met die naderende maandeinde die hourskoolkappers se produksiesyfers nagaan, kwaliteitkontrole doen en seker maak die klomp steek nie die wêreld aan die brand nie. Die gras staan hoog, die drade is heel, die wild is volop en dinge loop eintlik reg.
 
Hy het koring onder sy spilpunt laat insit en die bouers wat hy aangery het, vorder mooi met die drie jaghutte wat hy in die ranteveld bou.
Hy sê die jong werktuigkundige wat MidVaal gestuur het om na die stootskraper te kyk bly sommer in die huis by hulle want die plaas se woonkwartiere is beset. Die mannetjie was nog altyd goed met sy werk, maar nou in die skoolvakansie, met sy matriekdogter by hom op die plaas, is dit asof die mannetjie misvat aan die Cat Wheeldozer. Hy kom nie klaar met die werk nie.
"Jy het jou hande vol met die mechanic, die kolebranders, die bouers en die jagters, nê. Kry vir jou", sê ek.
Ek spreek my verwondering uit oor die jagters. "Waar kry hulle mense nog geld vir sulke dinge in hierdie tye?"
 
My vriend sê sy jagters is van n versekeringsmaatskappy en hulle het n spannetjie kliënte saamgebring. 'n Hele span van twaalf. Hulle kom elke jaar en bly tot hulle klaar geskiet het. Vat elkeen wat hulle wil en die res word maalvleis en pakkies stowevleis gemaak in die slaghuis op die plaas wat dan aan weeshuise en tehuise vir bejaardes gegee word. Social Responsibility en Marketing se rekening daai, verduidelik die ou.
 
"Jy is n besige man, maar die gode glimlag vir jou. Lyk my daar is nie veel verkeerd by jou nie. En al kom die mechanic reg met jou dogter en sy raak swanger, kan sy darem matriek skryf voor dit wys."
Hy vervies hom effe. Ek kan dit aan sy stem hoor as hy weer praat. "Ek keer my maat, ek keer. Maar wat kan mens doen? Dis soos ons altyd daar in die bos vir mekaar gesê het. Wat is, is. Maar ek kan jou verseker, hy en sy pa sal labolla betaal. Jy ken sy pa tog; hy was saam met ons op Ombalantu. Die ou het twee plase daar by Tsumeb met baie bees. Hy sal k#k en betaal... my meisiekind is nie goedkoop nie!"
 
Ek sê die liefde is duur en laai my woorde "Ja swaer, julle kan nie die stormwater wat in n nou klofie afkom keer nie."
"Koebaai Jacobie, koebaai. Ek moet loop keer daar rondom daai braaivuur waar hulle kamma-kastig help om my gaste te onthaal."