'n Bekommerde moeder skryf uit Otjiwarongo; "Geliefdes wat in Tsara Xaibes, DRC en Ombili (woonbuurte op Otjiwarongo) bly, asb as dit reen tyd is praat met kinders en sê hulle laat hulle met n pad stap waar jy hulle kan half pad kry of laat hulle iewers staan waar jy hulle kan ontmoet. Vandag hier by Tsara Xaibes se breg het dit glad nie goed gelyk nie. Klien goetjies staan daar om oor te gaan maar geen ouer staan en wag op die oorkant of kom deur en die kind kom haal nie. Selfde met skoole as hulle sien wolke trek toe moet hulle kindertjies laat huis toe hardloop. Ons lees tog newspaper plus op smart phones dit wys ook waneer dit begin reen. Dis Gods onmoentlik om n graad 0-1 kind die revier moet oor gaan, as hulle op die brug klim. Ander kant was ook vol water. Asb kom ons kyk na dit en as jy werk toe, gaan se iemand by die huis laat hulle altyd by reviere gaan staan as dit reen om die angeltjies te aan haal. Hoop principle sal ook tot die aandag van die onderwyser dit bring." Skryf Joqueline Awases op Otjiwanrogo toe Woensdag die groot reën en die bruggies na die onderdorp vol loop.
Otjiwarongo het blykbaar 100 mm reën gehad en alles was onder water op Woensdag. Die bodorp se mense wat onderdorp toe gaan was lank by die bruggie vasgekeer en die gevaarligte het geflikker. Toe besef haar moederhant in Afrikaans mense moet gewaarsku word en die graad 0 en die graad 1-tjies sou die malende waters nie kon deurgaan nie.
Haar desperate oproep gaan uit in Afrikaans - soos sy hom skryf - omdat die TAAL die taal is wat haar mense, die onderwysers en ander grootmense verstaan en kan lees. Syself is meertalig en haar moedertaal is waarskynlik Damara. Maar sy wil haar boodskap uitkry aan mense wat haar sal verstaan.
Dis hier waar ek wegbreek uit die gesprek oor Afrikaans se eeufeesjaar. In Namibie praat onse mense oor belangrike sake lank voor die Afrikaanse taalbulle in 1925 mekaar in die Kaapsea Parlement oortuig het om Afrikaans as amptelike taal te aanvaar en die Republiek-gesindes die taal onder hulle nes ingekrap het.
Vir die Joquelines het 1925 nie saak gemaak nie, want sy (haar voormense) het die taal toe lank reeds met handelaars en sendelinge in die voor Duitswes gepraat en as gevolg van mengelmoes in die lokasies, was dit die gebruikstaal.
Hier in die Duitse Suidwes-Afrika was 1933 - toe die bybel in Afrikaans verskyn het - straks 'n groter oomblik. Toe het moeders daaruit leer lees en dit algemeen gebruik in hul kinders se opvoedingervaring.
Ná anderhalfeeu in die land tussen die groot riviere noord en suid en die twee woestyne is Afrikaans in Namibia so lewendig soos altyd en as jy ordentlik is en eerste groet, sal tot 'n staatsamptenaar gou na Afrikaans oorslaan en straks nog 'n grappie deel. Spring maar in 'n Namibia2Go huurkar en deurkruis die land om die reën te kyk terwyl jy rekord hou van waar jy oral op Afrikaans bedien word.